Vanuit Kalahari tot snorkel by die Stormsrivier

Volgens vroulief is om saam met my vakansie te hou soos om binne in ‘n Dali skildery te leef. Ek sou dink sy verstaan die aandagafleibaarheid-storie nou al baie beter. Ek deel in elk geval so paar grepe uit die afgelope twee dae se vakansie sodat julle self kan sien dat vroulief heeltemal oordryf.

Woensdagoggend kry vroulief, nadat sy reeds gedraf en geswem het, ‘n bevlieging om in die bos te gaan stap. Ons ry toe maar in konvooi Jubilee Creek toe. Maar daar is te veel karre en mense en stof. Ons draai terug om maar te gaan tee drink en daar is toe so oulike Jersey vers in die pad en ek stop en gesels met haar totdat sy uit die pad uit gaan.

Skaars 100 meter verder is daar ‘n trop bobbejane en al die kleintjies is te naby aan die pad. Ek spreek hom toe aan en hy stem saam dis beter om dieper in die bos waar daar minder stof is te gaan kos soek. Na die gesprek kry ons uiteindelik ‘n esoteriese tee-plek vol Tarot-kaarte en vreemde boeke oor towerspreuke en ons eet toe maar ‘n okkultiese pekanneuttertjie terwyl ‘n groot en klein spinnekop op en af aan sydrade bokant ons koppe beweeg. Daar is nie kaart-fasiliteite nie, want hulle is off the grid verduidelik die vrou. Ek wonder of hulle wel van hierdie wêreld is.

Toe gaan swem ons by Vic Bay. Maar daar is baie mense. En vullis. En ‘n vet klein pokkel staan en piepie teen die lewensredders se paal terwyl ‘n dik moslem antie haar man ‘n kopklap gee om rede hy by die trappe struikel wat hy nie gesien het nie oor die meisies wat langs die trap in bikinis lê. Langs ons borsvoed ‘n oorbedeelde vrou ‘n kleuter van drie terwyl haar verfynde swaer krullers in haar hare sit. Krullers. Sommer daar op die strand. Almal dra leë kosbakke. Meestal die blikkerige HART braaibakke. En koelhouers. En almal waggel.

Gisteroggend besluit ons om die skares te vermy en ry Stormsrivier toe. Net toe ons oor die Kaaimansrivier ry, pleeg ‘n loerie selfmoorde teen my kantspieeltjie en die girls kyk my aan asof ek ‘n moordenaar is. Dit gaan ‘n lang dag wees. Anderkant Sedgefield sit ‘n groot swart voël soos ‘n voorbode op die Groenvlei-bordjie en ‘n dronk ou man stap langs die Watsonias en praat met homself terwyl hy woes beduie.

By Stormsrivier snorkel ek en my dogter (wat heeltemal te vinnig groot word). Ek sien ‘n seekat, klein sandhaaitjies en klomp visse en drink feitlik die gety weg, want ek is vanuit die Kalahari en daar snorkel mens nie. Retha swem soos ‘n meermin. Later spoel ek op die strand uit langs ‘n mede-walrus. Sy sit reusagtig wydsbeen in die vlakwater in ‘n te klein kostuum en haar arms maak sulke fyn draaie hier bo haar kop. Toe besef ek sy sukkel om op te kom en help haar. Haar wederhelf is so klein pienk gedaante onder die sambreel en hy lag te heerlik vir die gedoente.

Vroulief swem amper in ‘n jellievis vas en toe ry ons maar eerder om deur ‘n doolhof te gaan stap. Ons pak op en ek sien hoe ‘n vrou vir haar twee kleuters sulke koddige haaivin-flotasie gedoentes aantrek. Hulle het sproete en lyk erg stout. Voor ons by die doolhof uitkom gaan eet ons eers hamburgers en drink gemmerbier terwyl ons na Abba en Elvis luister by ‘n Amerikaanse diner in die bos. By die doolhof, oortuig ‘n vreemde aggressiewe vrou ons dit is beter om na die groot katte te gaan kyk.

Ek sien hoe ‘n tier teen ‘n graspol piepie en luister na ‘n wildbewaarder wat gesels oor die ongewenste swangerskap van hulle Amerikaanse mountain lions. Op pad terug sien ek Blessing die 36-jaar oue wit perd word aangehou tussen die leeus en die Bengaalse tiers. Die arme dier, wie sal nou so siek aftrede bedink.

Deur Natie Engelbrecht