4.3/5 - (6 votes)

Swembad by die kampplek

Kom voel die groengras onder jou voete by Utopia kampplek 12km buite Swellendam,

As jy voel dat jy GLAD nie wil kamp opslaan nie, dan weet jy dat jy BESLIS by ‘n LEKKER kampplek kamp! Utopia is so ‘n kampplek. As jy hier gekamp het, sal jy weet wat ons bedoel! Utopia is in ‘n klas van sy eie en ons sal beslis weer by Utopia wil gaan kamp!
Al die staanplekke het hoë natuurlike windskerms van bome en struike om – die skerms is dig – so jy het genoeg privaatheid by jou staanplek. Daar is ook meer as genoeg skaduwee (van die staanplekke het selfs die hele dag skaduwee, maar tenspyte van die baie skaduwee is daardie staanplekke se grasperke ook grasgroen!). Verder is al die grasperke sagte dik lowergroen gras. Toe ons by ons staanplek aankom het ek my skoene dadelik uitgetrek – die lekkerte van groen gras onder my voete was sommer net ‘n lekker bederf (dit het my laat dink aan ‘n luukse persiese mat) …en ek het my skoene eers aangetrek toe ons moes begin oppak. Die kampplek se staanplekke is regtig lekker groot en het elektrisiteit en ‘n waterkraan.
Ons het teen die een kant van die kampplek gekamp wat uitkyk oor ‘n laagtetjie. Dit was maar moeilik om ‘n staanplek te kies, want al die staanplekke is lekker uitgesit. Dit was so lekker om na die beeste te kyk wat in die laagte kom wei wanneer die son begin sak het. Ons het lekker skemerkelkies en peuselhappies geniet terwyl die beeste die einde van die dag aankondig met hulle rustige bulk-geluide. Ons het toe ook vuurtjie aangesteek en lui-rustig om die braai gekuier.

kampplek in die Wes-Kaap met groen gras

Die rustigheid van die

omgewing het veroorsaak dat ons tot laataand om die vuur gekuier het. Ons was boon-op ook nog bederf met ‘n volmaan wat natuurlike lig oor ons kampplek gegooi het – magiese oomblikke van kamp-lekkerte.
Ek moet sê, die ablusiegeriewe is uniek – die storte het ‘n uitkykvenster sodat jy voel asof jy in die natuur stort terwyl jy uitkyk oor die natuurskoon aan die oorkant van die laagtetjie. Die storte het heerlike warm water en die waterdruk in die storte is ook lekker sterk. Beide die dames- en mansablusie het 2 storte, 2 toilette en 2 wasbakke. Die ablusie was pynlik netjies terwyl ons by Utopia gekamp het. Ek het BAIE lekker gestort! Daar is ook elektrisiteit in die ablusie, so jy kan jou haardroeër saamneem om jou hare droog te blaas.
Vir skottelgoed en wasgoed is daar ‘n aparte oop geboudjie met ‘n afdak bo-oor. Daar is dubbele wasbakke sodat jy jou skottelgoed kan was en afspoel. Dan is daar ook ‘n diep wasbak om jou wasgoed te doen. Die water was ook vuurwarm sodat jy lekker jou skottelgoed skoon kan kry.
Die Kampterrein het ook ‘n heerlike groot kuierlapa – wat veral ‘n lekker saamkom/kuierplek kan wees as ‘n groot groep vriende of familie besluit om saam te gaan kamp. Wat is dan nou lekkerder as om rustig om die groot vreugdevure te ontspan en die wêreld se probleme met ‘n koue enetjie op te los! Dan is daar ook ‘n aparte lekker groot afdak met tavernbankies waar jy kan ontspan. Hierdie afdak met sy bankies het ook ‘n verhogie met genoegsame elektriese punte.
Wat vir my veral lekker van die kampplek is, is die swembad.Btort by kampplek

Daar is ‘n lekker groot grasperk langs die swembad, so ons kon lekker in die water ontspan en daarna bietjie in die son op ons handdoeke ontspan. Weereens word daar nie afgeskeep met die versorging van die grasperke nie. Die hangbrug naby die swembad maak vir ‘n pragtige agtergrond vir foto’s neem en daarnaby is ook ‘n lekker groot dam met skadubome waar jy kan gaan sit en ontspan terwyl jy jou gratis kamp-tydskrif lees. Hier is saligheid en rus hoog op die prioriteitslys!
Utopia is ‘n werkende plaas, dus is daar ook ‘n lekker groot kamp met plaasdiere. Toe ons daar gekamp het was daar die oulikste klein baba varkies in die kamp – en daar was ook ganse en skapies. Ek kan net dink hoe opgewonde ‘n stadskind moet wees om die diere van naby te sien. Die een ry kampplekke is so 30m vanaf – en kyk uit oor die diere-kamp – so jy gaan behoorlik voel of jy jou eie stukkie plaas het as jy hier bespreek by Utopia.
Dan is daar baie grondpaaie om te gaan trap met jou fiets of om te voet te gaan verken. Aangesien Utopia kragpunte het, kan jy ook jou e-bike saamneem om die omliggende area te gaan verken.
Die kampplek is slegs sowat 12km vanaf die immergewilde dorp van Swellendam. Daar is ‘n oulike markie (Under the Oaks Market) wat Saterdag aangebied word wat die mooiste handgemaakte goedere verkoop en daar is ook die heerlikste brode en snoepgoed. Somtyds is daar ‘n kunstenaar wat musiek maak. Maar natuurlik is daar ook baie lekker restaurante en oulike koffiewinkels om te gaan uitsnuffel in Swellendam. Dus as jy vir ‘n langer tydperk kamp by Utopia, kan jy ‘n dag uitry na Swellendam as deel van jou vakansie-kamp by Utopia.
Wel, my terugvoer van Utopia doen regtig nie gestand aan hoe lekker ons daar gekamp het nie – jy sal definitief self die kampplek moet besoek om te sien dat dit regtig ‘n BAIE LEKKER kampplek is.

kampplek se opwasarea Utopia kampplek se braai area

Algemene inligting
UTOPIA Kampplek
Kampplek & Selfsorg
NAASTE DORP: Swellendam
STREEK: Overberg, Wes-Kaap
GPS: -34.042263, 20.327500
Kontak: Wilna van der Merwe wilna@swdconnect.co.za
BOOK now

Getal staanplekke: 18
Elektrieseteit: Ja
Water: Ja                  Gemeenskaplike Ablusiegeriewe
Braai: Ja
Troeteldiervriendelik: Ja
Selfoon onvangs: Ja
Skaduwee: Ja
Swembad: Ja
Lapa/Braaiarea: Ja
Visvang: Ja
Plaasdiere: Ja

Hoekom Utopia?
Dit is ‘n droomwegbreek vir die hele gesin met die beste geriewe en skilderagtige uitsigte. Hier is baie groengras vir die kinders om te baljaar.

Visits: 21089