Smullekker beesstert

Die beesstert word in ‘n drukkoker gaargemaak om tyd te bespaar.

1,25kg beesstert
4 – 6 aartappels (geskil en gehalveer)
2 uie
½ koppie gerasperde wortel (opsioneel)
Omtrent 250ml water
15ml margarine
10ml kerriepoeier
3ml sout & peper na smaak
60ml asyn
30ml blatjang
30ml tamatiesous
30ml heuning

Om die sous te maak
• Meng die sout, peper, kerriepoeier, asyn, blatjang, tamatiesous, en heuning in ‘n bak en hou eenkant tot benodig.

Gaarmaak
• Braai beestert en uie in margarine tot bruin.
• Voeg water by en drukkook vir omtrent een uur
• Voeg artappels & wortels by vleis
• Voeg die sous by die vleis
• Drukkook nog 15 minute
• Haal deksel af en prut vir nog 20 minute – die sous behoort nou al so lekker dik en bruinerig te wees by die vleis.
• Bogenoemde kan ook gebak word in ‘n swart ysterpot in die oond of selfs op die vuur.
• Beide die volgende gaarmaak metodes verg baie tyd. Dit is ideaal as jy ander dinge wil doen want jou vleis is in die oond besig om gaar te word en jy kan solank aangaan met die dinge wat jy moet doen. Jy kan so teen 11 uur in die oggend begin en teen skemer is die beesstert heerlik sag en sappig – reg om te eet!
• As jy die voorreg het om in die bos op op vakansie te wees, stel net iemand aan om die kole dop te hou en teen ‘n konstante lae hitte te laat voortgaan, terwyl jy miskien ‘n draai gaan ry of iets dergeliks. Moet net nie dat die vleis aanbrand nie.
• In die oond – Nadat jy die vleis en uie effens bruin gebraai het, voeg bietjie water by in die ysterpot en bak die vleis op ‘n lae hitte vir omtrent 5 ure. Dit moet warm genoeg wees dat die vleis gaar en sag word maar nie so warm dat die vleis in die pot aanbrand nie. Die vleis moet baie stadig gaar word sodat dit lekker sag is. Plaas dan die aartappel, wortels en sous by, maak die deksel toe en bak op dieselfde stadige hitte vir nog omtrent een uur. Bak dan met lae hitte verder vir omtrent 15 minute met die deksel af.
• Op die vuur – Braai die beesstert effens bruin in klein bietjie olie in die driepoot ysterpotjie, maak die deksel toe en laat die pot op die medium kole staan (hoog genoeg van die kole af sodat dit nie kan aanbrand nie. Sit van tyd tot tyd ‘n paar kole bo op die deksel sodat daar hitte van bo af ook kan wees. Na omtrent 5 tot ses ure, sit die aartappels, wortels en sous by. Laat staan op die kole (met die deksel op) vir omtrent nog een uur – jy kan weer ‘n paar kole op die deksel plaas. Kook dan vir so 15 minute sonder die deksel.
• Die belangrike ding van die gereg is dat die vleis sag moet wees en amper van die bene afval, sonder dat dit aangebrand het.
– Gerda de Swardt