Slaai en sous

Meksikaanse mengelslaai
Blaarslaai
2 Tamaties (in blokkies gesny)
seldery
1 koppie Kaasblokkies
1 blikkie ‘Baked Beans’
1 klein pakkie Frito’s

• Meng saam in slaaibak.

Sous
1 k mayonnaise
1 k gewone yoghurt/maaskaas

• Meng sous en gooi oor slaai.

Baked beans slaai
1 blikkie baked beans
1 piesang
1 e mayonnaise

• Meng alles saam.

Bone en pynappelslaai
1 blikkie botterbone
1 blikkie pynappelstukke (hou sap vir sous*)

Kook sous:
50ml suiker
50ml asyn
25ml mielieblom
sous van pynappels *

• Gooi sous oor en laat staan 1 uur.

Pampoenslaai
1 butternut, grof gerasper. Strooi 1 pakkie perskejellie net so oor (moenie aanmaak). Net so ook baie lekker. Kan ook 1 blik gesnipperde pynappel ingooi, sonder sous. Alternatiewelik, grenadillamoes

Polonie-vetkoekies
2 koppie meelblom

1 teel sout
1/2 teel peper
1 eier
1 koppie melk
1 koppie gerasperde knoffelpolonie

• Sif die droë bestanddele saam en voeg die geklitste eier en melk by.
• Voeg die polonie by en meng deeglik.
• Skep lepelsvol in warm vlak olie en braai bruin aan albei kante.

Noedels en room
1 ui
1 pakkie spek
1 Groen en rooi peper
Bietjie olie
Gemengde kruie
1 bakkie room

Braai alles behalwe die room saam tot gaar. Gooi die room by en laat ‘n bietjie
kook to die room dik word. Eet saam met noedels.

Gegeurde piesangpoffers
6 piesangs
meelblom, gemeng met kruie en speserye
suurlemoensap van jou keuse
geklitse eier droë broodkrummels
olie

• Skil piesangs, sprinkel met suurlemoensap, rol in meelblom, dan in eiers en laastens in droë broodkrummels.
• Braai in warm olie totdat dit rondom goudbruin is.

Nuwe slaai
Twee appels geskil, ontpit en in blokkies gesny.
Voeg by ‘n halwe komkommer in dieselfde grootte blokkies gesny.
‘n Blikkie ertjies
drie eetlepels mayonnaise – die tipe wat nie te suur is nie.
Genoeg slaai vir so vier of vyf mense

Bruinrysslaai
4 kop gekookte bruinrys
6 gekapte salotte
l klein gekapte rooi soetrissie
1/3 kop sultanas
60 g geroosterde neute (eie keuse)
2 eetlepels sonneblomsaad
Gekapte pietersielie (opsioneel)

• Meng alle bestanddele
• Giet volgende mengsel oor bogenoemde en roer deur:
1/4 koppie olyfolie
3 eetlepels sojasous
2 eetlepels suurlemoensap
1 fyngekapte knoffelhuisie

LEKKER sous
Dit is baie lekker en is great oor braaivleis of selfs aartappels opgekook in hul vel. Nie vir enige een op ‘n dieet nie!

Bietjie olie
2 Uie (Gekap)
1 Pakkie Brown Onion Sop
100ml Melk
500ml Room

• Braai die Uie stadig in die olie tot lekker bruin.
• Meng die sop met die melk tot al die sop opgelos is.
• Gooi die sopmengsel en room by die uie en prut vir meer as ‘n half uur.
• Roer gereeld.
Nota:
Baie lekker as ‘n sous oor Braaivleis of oor “Jacketed Potatoes”
(Nie sommer oor altwee saam nie. “Can be too much”)

Broodslaai
Sny brood in dik snye en dan in blokkies
Sny kaas van jou keuse in blokkies
Gebraaide spekvleis in stukkies gekap
Gelyke hoeveelhede kondensmelk & mayonnaise
Olie vir diepbraai
Gebraaide sampioenstukkies (opsioneel)

• Diepbraai broodblokkies in olie tot bruin.
• Dreineer en laat afkoel.
• Voeg die res van die bestanddele by die mayonnaise mengsel ‘n halfuur voor opdiening by.

Hoenderslaai met mango en gemmer mayonnaise
6 hoenderborsie filette
250ml wit wyn
250ml hoenderaftreksel
2ml swart peperkorrels
3 lourierblare
bossie gemengde kruie
2 selderystingels, gekap
45ml pietersielie, gekap
3 groot mango’s, geskil en gesny
Gemmer mayonnaise
200ml mayonnaise
200ml suurroom
1 suurlemoenskil, gerasper
30ml suurlemoensap
10ml heuning
1 stukkie gemmerwortel, geskil en gerasper
sout en peper na smaak.

• Meng alle mayonnaise bestanddele saam, geur en verkoel.
• Kook hoender liggies gaar in wyn en hoenderaftreksel, asook met kruie, peperkorrels en lourier blare. Sodra gaar, sny in stukkies.
• Meng gaar hoender met seldery, pietersielie en mango skyfies. Meng met gemmer mayonnaise.

Biltongslaai
Slaaisous:
60 ml balsem-asyn
125 ml olyfolie
1 knoffelhuisie, gekneus
5 ml suiker of na smaak
5 ml Dijon-mosterd
1 stingel sprietui, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper

Slaai:
250 g klam, baie dun gekerfde biltong
375ml gerasperde cheddarkaas
‘n verskeidenheid blaarslaai om die slaai op te rangskik
3 agurkies, gekap
2 hardgekookte eiers, in skyfies gesny
2 ryp avokado’s, in blokkies,besprinkel met suurlemoensap

• Plaas al die bestanddele vir die slaaisous in ‘n skroefdekselbottel en skud goed. Hou in die yskas tot benodig.
• Plaas die biltong en kaas in ‘n bak en voeg genoeg van die slaaisous by om dit goed klam te maak.
• Bedek en marineer ten minste ‘n uur (of selfs tot ‘n dag lank) in die yskas.
• Rangskik die blaarslaai op ‘n mooi groot plat slaaibord en pak die slaaibestanddele bo-op.
• Besprinkel liggies met van die slaaisous.
• Skep die gemarineerde biltongmengsel bo-op en sit die oorblywende slaaisous apart in ‘n klein bekertjie voor.
• Sit dadelik voor.

Rysslaai
1 k rou rys (kook tot gaar)
½k rosyne
1 ui (fyn gekerf)
1 tamatie (in blokkies gesny)
½ groenrissie (fyn gesny)
1 klein blikkie perskeskywe

• Laat rys afkoel en meng met res van bestanddele.

Sous
1 k mayonnaise
2 t kerriepoeier
1 e Chutney

• Meng sousbestanddele en roer deur slaai.

Tropiese groenteslaai
1 blikkie gemengde groente (gedreineer)
1 blikkie pynappelstukke (hou sap vir sous*)
1 ui (fyn gesny)
gaar pasta (opsioneel)

Sous:
20ml sap *
50ml mayonnaise

• Meng sousbestanddele en gooi oor slaai

Mielietert
2-liter baie dik kaassous
500g gerasperde cheddarkaas
500g gesnipperde spek
1 groot ui, fyn gesny
2 groot pakke kaas-en-uie Simba skyfies
3 blikke baba mielies, gesny
bietjie olie om spek en ui in te braai

Braai die spek tot lekker bros en soteer die ui. Maak die Simba skyfies fyn en meng die ui in. Sny die baba mielies in ronde wieletjies. Meng nou die kaassous en al die ander bestandele. Skep in swartboom pot en bak by lou tot matig totdat tert gestol is. Garneer met ui spriete

Stampkoringslaai
250 ml stampkoring

1 x 410 g blik perskeskywe
1 soetrissie
2 ml mosterdpoeier
125 ml mayonaisse
sout
peper
1 kookappel
1 uitjie

• Kook stampkoring sowat 45 min of tot sag – gooi in vergiettes en spoel met koue water af. Laat goed dreineer
• Meng mayonnaisse en mosterd. Kap ui – sny appel in dobbelsteentjies en ontpit – sny soetrissies in repe
• Dreineer perskes en sny kleiner. Plaas alle bestanddele in slaaibak. Geur met sout en peper en meng met twee vurke.

Soet/sout slaai
1 x blikkie roommielies
1 x blikkie ingelegde perskes
1 x blikkie pynappelstukkies
1 medium tot groot ui
Kaas in blokkies gesny soos verlang
bietjie Knoffel en kruiesous (sommer so klaar gekoop in die bottel) na smaak.

• Dreineer die sap van die perskes en pynappel.
• Sny dan die perskes in kleiner stukkies.
• Meng alles saam en voeg die sous by soos na smaak.
• Mens kan dit seker afwissel met ‘n bietjie kerrie vir ‘n byt; hoe langer die mengsel le, hoe lekkerder!

Crabstick Slaai
1 x pakkie ‘Crabsticks’
1 x groen peper
1 x rooi peper
1 x geel peper
1 medium tot groot ui
Mayonnaise

Ontvries die ‘crabsticks’, sny in ringetjies, sny al die pepers fyn nadat dit ontpit is, sny die ui fyn en meng alles saam met die mayonnaise.
Lekker man Lekker

Maklike slaai
Hierdie is genoeg vir twee mense – pas maar die bestanddele aan as daar meer mense is wat gaan eet.

‘n Paar vars slaaiblare
Een groot tamatie
Een groot groen murgpampoentjie (baby marrow)
‘n Handvol olywe sonder pitte
‘n Klein blikkie aspersie stukke of ‘n halwe groot blikkie
‘n Paar stukkies fetakaas in blokkies gesny
‘n Paar knopie-sampioene sampioene (button mushrooms)
Een vars suurlemoen
Swart peper – die korrels
Gemaalde sout

• Was alles goed in koue water (behalwe natuurlik die swart peper en die suurlemoen) met bietjie sout daarby
• Sny alles op in eetbare stukkies en meng dit goed
• Sny die suurlemoen in die halfte en bedrup die slaai goed
• Strooi ‘n knippie sout op die slaai – nie te veel nie
• Laastens strooi die vars gemaalde swart peper daarop
• Moenie dit nou gaan beduiwel met allerhande olies of ander dinge nie. Dis gesond net so. Geniet die slaaitjie soos ek gesê het saam met ‘n paar stukkies gekerfde biltong (eenkant gehou nie saam met die slaai gemeng nie) en geniet veral, op daardie warm dae, die lekker koue Duitse bruisdrankie daarby!!

Lensie-en-rysslaai
200 g lensies
200 g ongepoleerde rys
1 middelslag ui, geskil en fyngekap
1 knoffelhuisie gekneus
200 ml fyngekapte pietersielie
sout en peper na smaak
175 ml lae-vet slaai-olie
75 ml asyn of suurlemoensap

• Gooi lensies en rys saam in ‘n bak en bedek dit met koue water. Laat dit sowat 2 uur week.
• Spoel in ‘n sif onder lopende water af en plaas in ‘n kastrol.
• Voeg koue water en sout na smaak by en kook dit sowat 20 minute tot sag maar nie pap nie.
• Dreineer in ‘n vergiettes. Gooi in slaaibak.
• Voeg uie, knoffel, pietersielie sout en peper by en meng.
• Meng slaai-olie en asyn of suurlemoensap en gooi oor.

Bros aartappelskilslaai
8 aartappels se skille
15ml olie
200g gekapte spekvleis
blaarslaai
100ml gekapte haselneute
60g fetakaas, in blokkies gesny
2 rooi, ongeskilde appels, in blokkies

• Skrop aartappels onder koue, lopende water. Druk droog.
• Skil aartappels in eweredige repe en braai in verhitte olie tot goudbruin en bros.
• Braai spekvleis tot bruin en bros en dreineer.
• Voer ‘n slaaibak uit met slaaiblare.
• Meng neute, kaas, appel, spekvleis en aartappelskille liggies. Plaas in slaaibak en verkoel.
• Lewer 4 porsies.

Eierslaai
1 slaaikop, fyn gekerf
8 eiers, hardgekook
sout en vars gemaalde swartpeper
250ml natuurlike jogurt
50ml mayonnaise
45ml blatjang
5ml suurlemoensap
1 klein ui, in ringe gesny
fyn gekapte pietersielie

• Rangskik die slaaiblare op ‘n mooi opdienbord.
• Sny die eiers in kwarte en rangskik bo-op. Geur goed met sout en peper.
• Meng die res van die bestanddele behalwe die pietersielie en ui en giet oor die eiers en slaaiblare.
• Rangskik uieringe bo-op en strooi pietersielie oor.
• Lewer 6 porsies.

Sweetcorn en spekslaai
1 blikkie ‘sweet corn’
100g gaar spek
½ groenrissie (fyn gekerf)
Kruie na smaak

• Meng alles saam en sit voor.

Kerriepiesangslaai
6 piesangs
1 t kerrie
1 k mayonnasie
1 e konfyt

• Sny piesangs in skyfies, meng sous bestanddele en gooi oor piesang.

Aartappelresep
• Neem een aartappel per persoon.
• Was aartappel en sny in dik snye.
• Plaas elke aartappel op ‘n laag tinfoelie, blink kant binne.
• Plaas ‘n paar snye ui, bietjie knoffel, sout & peper en 1 eetlepel botter op elke aartappel.
• Maak toe met foelie.
• Plaas nog ‘n laag swaer foelie om.
• Plaas dit nou tussen die kole tot gaar.
• Maak oop en besprinkel met gerasperde cheddarkaas.

Vinnige pastaslaai
TYD: 10 Min
Porsies: 2 as ‘n maaltyd

2 t olyfolie
½ rooi ui – fyngekap
100g spek, gekap
2e gekapte pietersielie of 1t gedroog
3k gekookte pasta skulpies (of wat ookal beskikbaar is)
¼ k wit asyn
1 klein blikkie “corn kernels”

Verhit olie en braai ui en spek vir 2min. Verwyder van hitte and voeg pietersielie, pasta, asyn en mielies. Meng goed. Voeg sout en peper na smaak by. Bedek en verkoel tot benodig.

Mieliepap poffertjies
250ml slap mieliepap, berei van
80ml mieliemeel
250ml meelblom
sout en peper
15ml bakpoeier
2ml mosterdpoeier
250ml gerasperde Cheddarkaas
knypie rooipeper
4 repies swoerdlose spekvleis gekap
1 eier geklop
1 of 2 russiese worsies
1 ui gerasper
Om te braai: 20ml olie
Om te sprinkel: 20ml braaivleisspeserye

• Meng al die bestanddele in ‘n groot mengbak.
• Verhit olie in ‘n groot pan, braai teelepels vol van die mengsel op ‘n slag tot goudbruin.
• Dreineer op kombuispapier, sprinkel speserye oor.

Dadelkluitjies
Stroop
500 ml suiker
1 liter water
30 ml (2 eetlepels botter)
30 ml (2 eetlepels goue stroop)
2 ml (halwe teelepel) sout

Kluitjies
500 ml koekmeelblom
15 ml (1 eetlepel) koeksoda
2 ml (halwe teelepel) fyn kaneel
30 ml (2 eetlepels) botter
125 ml (halwe koppie) fyn gesnipperde dadels
250 ml (1 koppie) melk
• Meng al die bestanddele vir die stroop saam in ‘n stoompot. Roer oor lae hitte tot die suiker opgelos is. Kook dan vyf minute lank.
• Meng koekmeelblom, koeksoda en kaneel saam.
• Vryf botter in en voeg die dadels by. Meng goed deur. Voeg die melk stadig by terwyl aanhoudend geroer word.
• Laat stroop weer kook en skep lepels van die kluitjiemengsel in die kokende stroop.
• Verlaag hitte (dit moet baie stadig prut anders kook dit oor) en prut 20 minute lank. Moenie die deksel oplig nie.
• Dien op saam met vla, room or roomys.

Spekrolletjies voorgereg
Gewone wit sampioene
Ontbytspek – verkieslik goeie rugspek met bietjie vet aan wat lekker hard en krakerig gebraai word – of min vet nes jy wil na jou eie keuse
Tandestokkies (Toothpicks)

• Neem die wit sampioene en was dit in soutwater – droog af
• As die sampioene te groot is, sny hulle in die helfte anders word hulle dalk nie heeltemaal gaar nie
• Sny die spek in die lengte in die helfte deur
• Draai nou die repe spek om die sampioene – een of twee per sampioen en steek vas met die tandestokkies deur die sampioen
• Gaarmaak en eet: Neem hierdie spekrolletjies en braai hulle op die kole. Dit moet so ‘n entjie bo die kole gebraai word – nie te warm nie, maar warm genoeg sodat die spek lekker krakerig kan word. Terwyl hulle braai, gooi sommer so bietjie braaisout of seesout op na smaak. Jy sal sommer sien wanneer hulle gaar is. Wanneer jy hulle afhaal, laat dit eers so ‘n bietjie afkoel want dis baie warm en jy kan jou mond lelik verbrand as jy te haastig is om te eet. As die Spekrolletjies so bietjie afgekoel het kan jy maar begin smul daaraan.
• Daar’s hy – so simpel soos dit. Jy kan natuurlik presies dieselfde resep volg deur van daardie rooi gebottelde kersies (sonder pitte natuurlik), of pruimedante (ook natuurlik sonder pitte) te gebruik, in plaas van die sampioen. Jy draai ook die spek om dit en steek vas met die tandestokkie. ‘n Goeie idee is om ‘n klompie van elk te maak sodat daar ‘n bietjie van ‘n verskeidenheid is in die voorgereg. Maak net genoeg want dis baie lekker!!!
• Onthou nou net om daardie koue enetjie van jou op te top en sommer daarmee almal anders s’n ook, voor jy die Spekrolletjies op die kole sit.
• Terwyl so ‘n klomp van ons nou die aand gebraai het, vat my ou vriend Dikkes twee groot spekrolletjies, prop hulle in sy mond in, kou so bietjie, neem ‘n groot sluk van sy yskoue bier en sê: “Ai man, hoekom het jou niggie nie al lankal vir jou hierdie resep gegee nie? Dis so lekker, ek drink sommer al jou bier uit vanaand.”

Maklike uieslaai
500-750g skoongemaakte uitjies
100ml kondensmelk
5ml mosterdpoeier
100ml tamatiesous
100ml witasyn

• Kook die uitjies in soutwater tot sag en dreineer. Laat koud word.
• Meng kondensmelk en mosterdpoeier. Klop tamatiesous en asyn by en meng goed.
• Plaas uitjies in ‘n slaai bak en gooi die sous bo-oor.
• Lewer 4-6 porsies

Avokado en maaskaasslaai
2 avokado’s
150ml korrelrige maaskaas
2 pynappelringe, in die helfte gesny
slaaiblare
2 hardgekookte eiers
Halveer en ontpit die avokado’s

• Skep gelyke hoeveelhede maaskaas in die avokado helftes.
• Plaas ‘n halwe pynappelring bo-op elkeen.
• Plaas die avokado helftes bo-op slaaiblare en garneer met eierskywe.

Warm kaas en artappelslaai
4 groot aartappels
120g Zoetvlei kaas, in blokkies gesny
2 repe spekvleis, gebraai & gekap
125ml Franse slaaisous
gekapte grasuie

Kook aartappels in kookwater tot sag. Trek skil af en sny in blokkies. Plaas in opdien-bak.
Voeg kaasblokkies by en meng. Sprinkel spekvleis oor.
Verhit slaaisous maar moenie kook nie. Giet oor slaai, sprinkel grasuie oor en dien dadelik op.

Piesang en pynappelslaai
4 piesangs
1 blik pynappelstukke (hou sap vir sous*)

Kook stroop:
1 t suiker
2 e mielieblom
1 t kerrie
sap *

• Meng stroop met vrugte en laat afkoel.

Appel en yoghurtslaai
3 appels
1 k joghurt
½ k grondbone & rosyne (of neute)

• Sny appels in blokkies en meng met die res.

Piesangslaai
6 Piesangs in skyfies gesny
1 klein houertjie pynappel of grennadella joghurt
Meng en bedien.

Maklike slaai
1 blikkie geroomde suikermielies
1 blikkie groen ertjies, gedreineer
1 blikkie pynappel stukkies, gedreineer
Meng en bedien.

Pampoenpoffertjies in Stroop
(Hierdie resep is baie lekker saam met enige tipe gekookte kos, en braaivleis)

500 ml fyngemaakte pampoen
250 ml bruismeel
10 ml bakpoeier
2 ml sout
kookolie
15 ml botter
325 ml suiker
200 ml melk
40 ml mielieblom
175 ml koue water
kaneel

• Meng pampoen, bruismeel, bakpoeier, sout en eier deeglik. Skep teelepels in warm kookolie. Braai goudbruin en gaar.
• Dreineer op bruinpapier en skep op opdienskottel. Verhit botter, suiker en melk tot kookpunt.
• Los mielieblom in water op en roer in ‘n straaltjie by melkmengsel. Verhit tot kookpunt en skep oor koekies. Dien warm op.

Tunapoffertjies
1 blik tuna (gedreineer)
sout
peper
2 eiers (geklits)
5ml suurlemoensap
12,5ml pietersielie(gekap)
5ml bakpoeier
120ml meelblom
30ml melk
paprika
olie om in te braai

• Vlok tuna en voeg oorblywende bestandele, behalwe olie en paprika by. Skep opgehoopte teelepels vol van mengsel in warm olie en braai tot goudbruin.
• Dreineer poffertjies en besprinkel met paprika. Dien warm op.

Soetsuur-doopsous
1 blikkie kondensmelk
Mayonaisse (dieselfde hoeveelheid as die kondensmelk)
gerasperde kaas
gesnipperde suuruitjies (groen of rooi lyk mooi saam met kaas)

• Meng alles saam en laat staan ‘n rukkie sodat die smake kan meng.
• Bedien saam met Simba/Willard skyfies.

Mosterdsous
250 ml wit suiker
25 ml mosterdpoeier
12,5 ml koekmeelblom
1 ml sout
125 ml asyn
125 ml water
2 groot eiers

• Meng suiker, mosterdpoeier, koekmeelblom en sout in diep bak.
• Voeg asyn en water by en meng – mikrogolf vir 4 min by 100% krag. Roer na 2 min.
• Klits die eiers, klits nou bietjie van kokende sous by eiers, voeg res van die eiermengsel by kokende sous en roer goed.
• Mikrogolf 3 min by 50% krag en roer elke minuut.

Koning sampioen met ‘n lekker roomkaas mengsel
Met ‘n lekker koue drankie in die hand langs ‘n gesellige vuurtjie, eet jy hierdie kampioen sampioen.

Groot sampioene – Afhangende van hoeveel mense daar is, soveel sampioene moet jy gebruik, want ek praat nou hier van daardie groot bruin sampioene wat by die meeste supermarkte of party groentewinkels gekoop kan word.
Die sampioene is elk omtrent so groot soos ‘n piering en een sampioen per persoon is oorgenoeg. As jy nie die heel groottes kan kry nie gebruik dan die kleiner bruin sampioene, maar dan moet jy omtrent twee of drie per persoon voorberei.

Vars tiemie – so ‘n handvol
Vars Pietersielie
Growwe seesout
Heel gemengde peperkorrels
‘n Houertjie gladde maaskaas met kruie (“cottage cheese”) of vir ‘n ander geur bietjie roomkaas of “cream cheese”
‘n Houertjie Feta kaas
‘n Blokkie Cheddar kaas
Botter – sowat twee eetlepels botter
Een eetlepel meelblom – of meer afhangende van die hoeveelheid sampioene
‘n Lekker ou kampvuur
Rooster of plaat
Foelie (Tinfoil)

• Jy moet natuurlik eers jou vuur aan die gang kry sodat solank ‘n paar kooltjies kan maak – gebruik natuurlik goeie hout soos bv, sekelbos of mopanie. Sodra die vuur lekker brand en almal met ‘n lekker koue een in die hand sit begin met die voorbereiding.
• Was die sampioene goed af in koue soutwater en spoel dan af in lopende koue water. Droog die sampioene dan af met papiervadoeke of iets dergelikes. Laat staan vir sowat twee minute.
• Neem ‘n mengbak en gooi die maaskaas of roomkaas daarin
• Druk die feta kaas baie fyn en gooi dit by die maaskaas
• Rasper so bietjie cheddar kaas en gooi dit ook by die maaskaas
• Voeg bietjie pietersielie en tiemie by en voeg dan die botter by
• Voeg die meelblom by
• Maal of stamp die peper en sout fyn en gooi dit in die mengesel
• Neem ‘n vurk en meng nou die bestanddele baie goed sodat daar nie klonte in is nie
• Smeer nou die boonste gedeeltes van die sampioene mooi dik en vol met die mengsel
• Gaarmaak op die kole: Sodra daar so paar kole is, krap ‘n bietjie uit die vuur en plaas ‘n rooster of plaat so medium hoogte daarop – die kole moenie te warm wees nie.
• Indien jy die rooster gebruik – trek dit eers oor met foelie (”tinfoil”)
• Gooi botter op die tinfoil of op die plaat indien jy ‘n plaat gebruik
• Plaas die sampioene op die foelie of plaat en wag
• Hou die sampioene goed dop en sodra die kaasmengsel mooi gesmelt het haal af met ‘n plat skep-instrument soos ‘n eierspaan of ”egglifter”
• Plaas elke sampioen op ‘n bord en bied aan
• Lek jou lippe af en eet
• Onthou die sampioene is groot, so sny dit miskien in die helfte of in kwarte sodat ‘n mens dit lekker met die hande kan eet, of bedien dit heel op ‘n bord sodat die mense dit self kan sny met mes en vurk

 Pannekoek
Net genoeg vir 5 persone.
500 g (4 k) Bruismeel
3 eiers
600 ml koue water
sout
15 ml bruin asyn
Olie vir bak
Meng al die bestanddele behalwe die olie… met ‘n klitser of draadklopper.
Laat staan die deeg vir ‘n half uur. Voor jy bak… roer die deeg… dit gaan baie dik wees. Voeg 250 ml water by. Sit 40 ml olie in die deeg en roer goed. Dit sal keer dat die deeg aan die pan vassit. Maak die pan lekker warm en sit die deeg in die pan. Verstel die hitte sodat dit net die regte temperatuur is.
Maak pot ½ vol water en laat kook op die stoof. Sit ‘n geskikte bord bo-op om pannekoeke warm te hou.