My Eerste Vis

Erik se eerste “bass” deur Piet van Oudtshoorn (van Bethal, Mpumalanga). Ek het nou al 2 byname gekry oor my van, dis of Piet Langvan of Piet van Oral. Ek is baie lief daarvoor om te gaan visvang met my kinders. ‘n Mens raak net so opgewonde oor die vis wat hulle vang as waneer jy self ‘n bielie aan die lyn het. Maar as die vis nie byt nie, kan ‘n lekker dag by die dam naderhand ‘n LANG dag word en my 2 seuns kan nie stil sit nie. Ek het nou ook al geleer, as ons gaan visvang, is die “bass” stokke ook altyd ingepak om hulle besig te hou vir ingeval die “papgooi” stokke bietjie stil is. So gaan kamp ons toe nou een naweek by Grootdraaidam buite Standerton.

Met groot verwagting begin kamp opslaan en na sowat ‘n uur se werk om alles uit te pak en tente op te slaan, is die stokke in die water. Die byte is maar min en daar is oral vashaak plek, so die seuns (en ek) raak al meer ongeduldig met die “omstandighede”. Die seuns besluit toe om maar die “bass” stokke uit te haal en te probeer bass vang. Ek wil nie hê hul moet te naby aan die bure gooi nie, want die akuraatheid is nog net nie daar met hul gooi aksies nie, so hulle vang sommer hier reg voor die kamp plek waar die karp stokke lê. Soos dit nou mos maar gaan, as die vis nie wil byt nie, raak hul weer gou verveeld met die ingooi en uit katrol oefening. Phillip (die jongste) besluit toe hy gaan liewer swem en bêre sy stok by die karavaan en Erik (oudste) wil op ‘n ander plek gaan vang want “Hier is nie vis nie”.

Ek oortuig hom toe dat daar wel vis is, hy moet net geduldig wees, maar in my gedagtes stem ek 100% saam dat daar nie vis is nie. Ek het toe maar besluit om weer by my stokke te gaan sit en ‘n byt daar te wens. Met die, hoor ek van agter my Erik wat half benoud skree: “Pa, pa! Ek dink ek het ‘n byt!” Erik is maar ‘n ou terg gees, maar ek kon aan sy stemtoon hoor … die is regtig! Ek vlieg om en sien, sowaar, hy het ‘n vis aan die lyn. Ek gryp toe die skepnet en hardloop om hom te gaan help. Ons het die “bass” geland en dit was Erik se heel eerste bass wat hy gevang het! Terwyl ons fotos neem en “fuss” oor die mooi vis, is Phillip soos ‘n vuurpyl uit die water om sy visstok te gaan haal, want hier is dan vis!

Die res van die naweek het maar stillerig gegaan wat visvang aan betref. Tot vandag toe kan Erik nog daai eerste bass onthou en soos enige goeie visserman, groei die vis ook elke keer as hy die storie vertel van sy eerste bass wat hy gevang het.