Vir die blommekykers van 2019

Namakwaland

Die Namakwaland is geleë in die Noord-Kaap. Hierdie luisterryke omgewing is bekend vir sy 6000 plantspesies, 250 voëlspesies, 132 reptiel- en amfibiese spesies en 78 soogdierspesies. Byna die helfte van hierdie spesies is endemies – hulle kom nêrens anders in die wêreld voor nie. Hou jou oë oop vir die Namakwalandse gousblom!

Begin by Springbok, Namakwaland se hoofstad. Goegap Natuurreservaat is 15 km buite die dorp en jy kan die Hester Malan Veldblomtuin deur middel van ‘n begeleide toer in ‘n oop trok verken.

Die Namakwa Nasionale Park beslaan 103 000 hektaar en sluit die Skilpad Veldblomreservaat in. Hierdie omgewing spog gewoonlik met ‘n swetterjoel blomme omdat die reënvalsyfer in hierdie omgewing so hoog is. Kyk of jy die wêreld se kleinste skilpad tussen die blomme gewaar!

Volgende op die lys is Nieuwoudtville. Besoek die Kokerboomwoud, die Hantam Nasionale Botaniese Tuin, Nieuwoudtville se Blommereservaat en die Oorlogskloof Natuurreservaat.

Weskus

By die Weskus Nasionale Park is Moeder Natuur se glimlag besonder oorweldigend. Die Postberg-gedeelte van die park is ‘n eksklusiewe veldblomreservaat wat elke jaar net in Augustus en September oop is vir die blommefees. Daar is braaigeriewe en piekniekplekke en heerlike piekniekmandjies kan by die Geelbek restaurant gekoop word.

Darling bars uit sy nate in skakerings van wit madeliefies en magrietjies en pers skilpadblomme. Maak ‘n draai by die Darling Veldblommeskou (sien meer besonderhede hieronder).

Geel en wit veldblomme lê soos ‘n dik mat in die westelike deel van die Tankwa Karoo Nasionale Park. By die Roggeveld-kransberg het die geel en wit gare opgeraak en moes die weefkunstenaar oorslaan na pers, oranje, rooi en pienk. Die kranserige berge in hierdie omgewing is ook oortrek met vet- en bolplante.

Biedouwvallei in die Sederberge het baie van sy blommevelde verloor as gevolg van landbou-ontwikkeling, maar dit is steeds die besoek werd as jy in die area is.

Rondeberg Privaat Natuurreservaat in Malmesbury, net 63 km van Kaapstad af op die R27. Begeleide staptoere word hier aangebied om jou bekend te stel aan meer as 100 verskillende blomspesies.

Columbine Natuurreservaat buite Paternoster word elke jaar omskep in ‘n helder kaleidoskoop van fuchsia-pienk, wit en rooi wanneer die suurvye, spinlelies, rooi malvas en Kaapse madeliefies blom.

Akkerendam Natuurreservaat in Calvinia is ‘n toevlugsoord vir voëls en Karoobossies. Tien van die blomspesies kom net hier in die Hantam voor en daar is 2 lieflike staproetes.

Oorlogskloof Natuurreservaat buite Nieuwoudtville spog met 533 plantspesies wat hulself elke jaar optooi vir die lentefees. Besoekers kan ook kies tussen ‘n groot verskeidenheid staproetes (1 tot 4 dae) om die plaaslike rotskuns te kyk.

Ramskop Natuurreservaat in Clanwilliam is nou wel net 66 hektaar groot, maar meer as ‘n tiende van hierdie stuk grond is elke jaar toe onder ‘n laag Namakwalandse veldblomme. Die velblomtuin het meer as 350 spesies wat altyd voluit blom in die lente. Daar is ook staproetes en ‘n teetuin gedurende die blommeseisoen.

Van Stadens Veldblomreservaat in Port Elizabeth is veral bekend vir sy fynbos, vetplante en proteas.

Tafelberg Nasionale Park in Kaapstad is elke lente uitgedos in ‘n geweldige verskeidenheid van lenteblomme.

Staproetes

Die Postberg Tweedag-staproete is ‘n luisterryke staproete onder 30 km. Stappers spandeer ‘n nag tussen die veldblomme. Onthou om jou eie tent en proviand saam te bring.

Die Steenbok Eendag-staproete is ‘n 14 km staproete wat dieselfde roete as die Postberg Tweedag-staproete volg.

Die Swart Tobie Staproete laat jou toe om ongeveer 80 km van ‘n afgeleë gebied in die Weskus na aan die dorp Koekenaap te verken. Wandel deur die veldblomme, al langs die strande, en as jy gelukkig is sal jy selfs ‘n walvis of twee in die water sien baljaar.

Die Sevilla Rotskunsroete strek 4 km ver in die Sederberge en 9 rotskunsplekke word besoek.

Die Five Bay Trail kronkel 28 km lank al langs die Weskus tussen Paternoster en Jacobsbaai. Stappers doen aan by 5 baaie en leer sommer langs die pad iets van die geskiedenis van die visbedryf.