Oorvloed Campsite and Guesthouse
Oorvloed Campsite and Guesthouse bied die rustigheid, stilte, ruimte, vars lug en natuurskoon waarna jy soek. Weg wees van die gewoel van die stad, sonder televisie en selfone wat lui? Dan is dit die plek om te kamp. Oorvloed Campsite (“rustic”) is geleë op die plaas Karoolskraal (Oorvloed genoem) langs die Breederivier, 38 km vanaf Swellendam naby die Malgas pont.
3 Tente is beskikbaar, met 2 enkelbeddens in elk. Eie beddegoed moet wel saamgebring word. Eie tente of kampwaens kan ook enige tyd gebruik word. Die kamppeerplek word as ‘n eenheid bespreek vir ‘n familie of groepie. Maksimum 10 persone.
Oorvloed Campsite and Guesthouse bied geen elektrisiteit nie en ‘n paar meter moet gestap word vir ‘n bietjie selfoonopvangs.
Daar is ‘n klipgeboude badkamertjie met ‘n wasbak, stort en toilet. Die warmwater word voorsien deur ‘n “donkie” wat self gestook moet word. Hout word vir die “donkie” voorsien.
Daar kan met die Malgas pont oorgegaan word na Malgas Hotel, Infanta, Potberg en De Hoop Natuurreservaat. Daar kan gestap en fietsgery word op die plaaspaaie of in Marloth Park waar daar verskeie staproetes oor die plaat of na watervalle is. Nuwe fietsryroetes is ook in Swellendam uitgelê om die pragtige natuurskoon te geniet terwyl daar geoefen word. Bontebok Park kan ook besoek word, waar daar piekniek gehou, geswem of selfs fietsgery kan word. Ons pragtige, historiese dorp, met die museum, restaurante, koffiewinkels, pottebakery, bessieplase en vele meer, moet beslis ook besoek word.
Aanwysings na Oorvloed Campsite and Guesthouse
Buffeljagsrivier na Malagas roete: Ry op die N2 vanaf Swellendam in die rigting van Mosselbaai vir ongeveer 10 km. Draai regs by die BP Buffeljagsrivier vulstasie. Ry oor die treinspoor en draai links aan die einde van die teerpad (3 km vanaf N2), in die rigting van Malgas. Ry ongeveer 20 km tot by die naambord van Oorvloed Campsite and Guesthouse en draai regs. Ry 4 km en volg die natuurlike draai van die pad na links vir nog 1.5 km. Die gastehuis is aan die regterkant en die kampeerplek ‘n verdere 2.5 km.