Noukrans Boskamp
Beskrywing
Op die plaas Goedehoop, ongeveer 20km buite Heidelberg, Wes-Kaap, is die Noukrans Boskamp geleë.
En dis HIER waar jy jou skoene uitskop, die vuur aansteek en net vergeet van werk, verkeer, gejaagd wees en verantwoordelikhede. Jou selfoon kan jou nie pla nie, so wees gerus as jy jou laaier tuis vergeet het…
Bring jou eie tent, karavaan of boswa, kom kies jou staanplek tussen honderde akkerbome (waarvan die oudstes geplant is in die 1920’s) en maak seker dat jy ‘n pragtige uitsig het!
Ons droom is om ons stukkie “hemel op aarde” met ander natuurliefhebbers te deel.
Hier is gesamentlike ablusiegeriewe vir ongeveer 10 staanplekke (ons beheer die aantal gaste wat op een slag hier bly.) Warm sowel as koue water is beskikbaar by die storte en opwasgeriewe. Verder is hier geen elektrisiteit nie – slegs sonpanele wat gebruik word vir ligte.
Die toilette en storte se water is skoon (bruin) rivierwater. En vars (wit) drinkwater (reën- of fonteinwater) is uit die tenke beskikbaar.
Aanwysings
Vanaf Swellendam: Ry met N2 verby Buffeljags BP vulstasie, draai links by die Suurbraak/Barrydale afrit. Ry deur Suurbraak en volg die teerpad tot dit grondpad word. Op die grondpad, ry 5,3 km (ignoreer die Heidelberg afdraai na regs), volg die Grootvadersbosch bord. Na ‘n verdere 1,4 km by ‘n T-aansluiting, draai links. Ry 1,3 km tot by vurk in die pad, hou regs (Grootvadersbosch is na links) en volg die Noukrans Boskamp borde.
Vanaf Heidelberg: Vanaf N2 draai af by Wimpy/Engen en Caltex vulstasies. Ry reguit met Eksteen straat en hou reguit aan oor 3 STOP-tekens. By 4de STOP-teken, draai links. Daar is ’n Barrydale bord. Hou reguit aan met teerpad oor die treinspoor. 1,8 km na grondpad begin het, draai regs by Goedehoop bord. Ry nog 4,5 km tot by vurk in die pad, hou regs (Grootvadersbosch is na links) en volg die Noukrans Boskamp borde.