Bierbrood

Ek vind die bak van brood intimiderend en beskou diegene wat sulke goue korsagtige wonders skep, as kunstenaars bo my vuurmaakplek.
Hier is ‘n lekker een uit wyle Sannie Smit se boek Potjiekosgunstelinge.
(Brood word natuurlik in ‘n platboompot gebak.)

550 ml witbroodmeel
600 ml gebreekte koring
1 t sout
10 mg kitssuurdeeg
350 ml bier
6 t heuning
3 t gesmelte botter
100 ml lou water

• Meng meel, koring, sout en suurdeeg in groot mengbak.
• Meng bier, heuning, botter en water en voeg by meelmengsel.
• Roer tot deeg maklik hanteerbaar word. Keer uit op meelbestrooide oppervlak en knie tot deeg glad is — so 5 minute.
• Vorm deeg in bal, druk bokant effens plat en plaas in potjie wat aan binnekant liggies met olie gesmeer is.
• Bestryk deeg en binnekant van deksel met gesmelte botter.
• Bedek en sit pot in warm plek vir sowat 45 minute tot deeg in volume verdubbel het.
• Plaas pot oor stadige kole en sit sommer ‘n paar kole bo-op deksel sodat jy hitte van daardie kant af ook het.
• Bak vir 45 tot 60 minute. Die brood moed hol klink as hy geklop word.
• Keer die wonderwerk uit, en bedank Sannie vir die resep.