Beste krag-opsies wanneer jy kamp

Beste krag-opsies wanneer jy kamp

Krag-opsies wanneer jy kamp – Kort weergawe:

  • Die meerderheid van kampers wat ‘n vrieskas het, het ‘n 12V kompressor vrieskas.
  • Die meerderheid van kampers wat ‘n 12V kompressor vrieskas het, het ‘n 2de battery sowel as ‘n “battery management” stelsel (die solenoïde-skakelaar stelsels is baie gewild en betroubaar, my gevoel is dat die “voltage booster” stelsels alhoewel aansienlik duurder, ‘n groot rol in die mark begin speel omdat dit jou 2de battery voller laai as ‘n solenoïde stelsel en baie keer ‘n sonpaneel kan akkommodeer)
  • As my begroting klein is, sal ek’n “High Cycle” battery installeer met ‘n Solenoïde stelsel.
  • ‘n Klein hoeveelheid van kampers gebruik ‘n sonpaneel saam met hulle battery stelsel, dit kom tot sy reg wanneer jy lank op een plek staan waar daar nie 220V krag beskikbaar is nie en die risiko daar is dat jou 2de battery pap gaan raak.
  • Jy wil dit vermei dat jou 2de battery se potensiaal (Volts) tot onder 10.5V val, want dis waar die skade gebeur. ‘n “Deep Cycle” battery is meer gehard teen sulke skade as ‘n “High Cycle” battery.
  • ‘n 2de battery sal tipies ‘n kompressor vrieskas kan aandryf vir 36 uur, en dit neem jou voertuig se alternator so 6 ure om dit weer vol te laai.
  • ‘n 2de battery behoort 5 jaar+ te hou.
  • Baie min kampers gebruik ‘n krag-opwekker

Lang weergawe: 

40 jaar gelede het baie kamp-families ‘n gasvrieskas en ‘n gaslamp gehad.  Elektrisiteit was vir die kassetspeler radio en dalk die sigaret-aansteker.  Flitse het een grootte battery gevat, ‘n flou liggie gemaak en bewaar jou siel as jy Pa se flits 5 sekondes langer as nodig laat brand.  Dit het so ‘n groot impak op ons gehad dat almal bo 40 vandag weet wat ‘n flitsbattery is, min van ons weet dis eintlik ‘n “D” battery.

Deesdae is daar soveel elektries-afhanklike items wat ons saamvat op ‘n kamp (tablets, selfone, kameras, ekstra ligte, GPS, Laptops), dat die meeste kampers op een of ander stadium begin kyk na ekstra elektrisiteit/krag-opsies.

Die standaard voertuig verskaf 12VDC krag wat voldoende behoort te wees vir al die bogenoemde, want jy kan vir almal van die items 12V laaiers aanskaf en hulle is baie lig op krag.

Maar jou volgende kopie is waarskynlik ‘n vrieskas, en hier begin dit interessant te raak, want jy gaan ekstra krag nodig hê.

Maar ek kan mos ‘n gasvrieskas koop – Ja, jy kan.   Indien jy nomadiese tipe toere oorweeg, is dit beter om te kyk na ‘n 12V Kompressor vrieskies.  In die Maart 2018 uitgawe is ‘n artikel oor vrieskas-oorwegings:  Kamp is Lekker Tydskrif Maart 2018

Vir water ander elektriese/elektroniese toerusting gaan jy voorsiening moet/wil maak in die volgende 5 jaar?

Wanneer die kampgogga jou byt dat jy knoppe oral uitslaan, gaan jy, voordat jy jou oë kan uitvee, ‘n watertenk met ‘n elektriese pomp hê, sowel as ‘n 2-rigting radio.   En jy gaan ‘n kompressor bykry vir die wiele opblaas, en as julle so rof raak dat selfs jou vrou hardebaard kry, dan gaan julle ‘n winch ook kry.

Wanneer jy egter ‘n winch en ‘n kompressor gebruik, skakel die kar aan sodat die kragvoorsiening van die alternator af kom, so ‘n mens hoef nie voorsiening vir kragverbruik vir die 2 items te maak nie.

In kort, die hoofrede vir ‘n 2de battery, is om jou kompressorvrieskas mee aan te dryf.  Jy kan wel ‘n vrieskas vir kort tydjies aan jou karbattery koppel, maar dit gaan jou karbattery vinnig paptrek, en jy mag dalk sukkel om jou kar aan te skakel, so dit is ‘n risiko.

Watter krag-opsies is daar vir kampers?

Uit ‘n krag-oogpunt, kan jy jou voertuig inrig vir 4 moontlike krag-scenarios, en mense kombineer partymaal twee, drie of sommer almal van hulle:

  1. Kry ‘n ekstra battery en ‘n “battery management” stelsel
  2. Kry ‘n sonpaneel
  3. Kry ‘n krag-opwekker (generator)
  4. Gaan kamp slegs by plekke wat 220V krag het, soos by die huis.
  5. Alles in 1

Die ekstra battery, dit gaan hand aan hand met ‘n “battery management” stelsel

Daar is 2 drasties verskillende kragverbruike in ‘n kampvoertuig:

  • Die battery waarmee jou kar uitkom (hoofbattery), se hoofdoel is om die enjin aan te skakel. Om ‘n enjin aan te skakel vat baie energie oor ‘n 2 sekonde kort tydperk, en die battery word onmiddellik weer herlaai wanneer die kar luier (die battery se potensiaal (Volts) val nie baie nie, die laai-siklusse is baie – ‘n battery met dun lood-plate hanteer hierdie omstandighede goed).
  • Relatief gesproke tot ‘n enjin, gebruik ‘n kampvrieskas min energie, maar vir ‘n lang tydperk, en die tydperk tussen die ekstra battery (2de battery) se herlaai-siklusse kan 24h of meer wees. (die potensiaal (Volts) kan baie val, die laai-siklusse is min – ‘n battery met dik lood-plate hanteer hierdie omstandighede goed)

Batterye word spesifiek ontwerp vir hierdie verskillende kragverbruike, en as ‘n mens ‘n battery gereeld vir die verkeerde kragverbruik gebruik, verkort jy die battery se lewe aansienlik.

So bly by jou vervaardiger se aanbeveling vir ‘n hoofbattery.  Vir ‘n 2de battery, kies ‘n “high cycle” (dikker lood-plate) of “deep cycle” (dikste lood-plate) battery.  Hoe dikker die loodplate, hoe laer kan die battery se potensiaal  (Volts) val voordat die battery loodplate noemenswaardige skade begin kry.  Die meeste kampvrieskaste het ‘n potensiaal-sensor om die battery te beskerm, wat die vrieskas laat afskakel wanneer die battery-potensiaal geval het tot by 10.5V.

Om die beste uit ‘n 2de battery te kry:

  • Probeer dit vermei om jou battery-potensiaal tot onder 10.5V te laat val
  • Maak ‘n punt daarvan om jou battery-pole skoon te maak en jou konneksies deur te gaan so een keer ‘n jaar, om te verseker dat jou battery so vol as moontlik gelaai kan word deur jou “battery management” stelsel.

Wat doen ‘n “battery management” stelsel vir jou hoof- en 2de battery?

Wanneer jou kar aan is, moet beide batterye aan die alternator (en sodoende aan mekaar) gekoppel wees sodat beide kan laai van die “alternator” af.  Wanneer jou kar af is, moet die 2 batterye ontkoppel wees van mekaar, sodat wanneer jou vrieskas jou 2de battery pap trek, dit nie die hoofbattery ook pap trek nie.

Die koppel en ontkoppel van die hoof en 2de battery, kan deur verskeie stelsels gedoen word:

Dit kan met die hand gedoen word deur ‘n skakelaar tussen die 2 batterye te installeer en skakelaar dan fisies aan en af (oop en toe) te skakel (basies, goedkoopste, maar jy moet al die dinkwerk doen)

  1. Die solenoïde en elektroniese skakelaars is die outomatiese skakelaar weergawe wat tipies deur ‘n vertraging-sein geaktiveer word (sodat die hoofbattery ‘n kansie het om alleen te laai) (redelik basies,redelik goedkoop, geen dinkwerk):

Versterker (booster) stelsels (duur, laai jou 2de battery die volste, kan baie keer ‘n sonpaneel ook akkommodeer)

  1. Hierdie stelsels doen die koppel/ontkoppel werk ook outomaties, die groot voordeel is dat dit die potensiaal versterk (boost the Voltage), wat beteken jou 2de battery word ‘n bietjie voller gelaai as wat die eerste 2 stelsels kan doen. Jou vrieskas kan dus daardie paar ure langer loop voordat dit afskakel.  My persoonlike opinie is dat, indien jy jouself in ‘n situasie bevind waar jy uit krag uit gaan hardloop met ‘n Solenoïde stelsel, jy waarskynlik ook uit krag uit sou hardloop met ‘n booster stelsel.

‘n Sonpaneel?

Wanneer ‘n 2de battery pap is, moet ‘n mens ‘n hele paar ure gaan rondry voordat die battery volgelaai is.  Indien jy beplan om vir ‘n hele paar dae lank op een plek te kamp waar daar nie krag is nie, sonder om iewers heen te ry, is ‘n sonpaneel ‘n baie goeie opsie vir ekstra krag vir die vrieskas.

‘n Krag-opwekker (Generator)

Deesdae het die meeste kampterreine 220V krag beskikbaar, selfs in die afgeleë areas het baie kampplekke reeds 220V krag beskikbaar vir groot dele van die dag.   Die omstandighede waarin jy ‘n krag-opwekker sal gebruik, sal dus wees as jy na ‘n baie afgeleë plek toe gaan, jy het nie ‘n batterystelsel in jou voertuig nie, en jy wil jou vrieskas saamvat, en miskien ‘n paar ander luukses.

Krag-opwekkers kan tipies 12V en 220V items aandryf, so jy kan jou ysmaker saamvat, so ook jou Nespresso koffie-maker en selfs die TV.  Maar ‘n krag-opwekker vat plek, jy moet ekstra brandstof saamvat, die aanvanklike uitleg is duur en dit maak ‘n geraas wat nie goed afgaan in die kampwêreld nie, so wees bewus daarvan dat jy waarskynlik een of ander omie gaan ontstig.

Kampterreine wat wel krag het:

Die ander opsie is om te hou by kampterreine wat 220V kragpunte het.  Jou grootste uitgawe hier is ‘n verlengingskoord.  Jy kan egter die luukses van jou huis, koffiemaker, ysmaker en haardroër saamvat sonder enige probleme, indien jy die pakplek vir dit het.  En indien jy nuwe kleiner elektriese items wil koop, is dit miskien ‘n beter opsie om te kyk na 12V items, om jou die geleentheid te gee om sonder Eskom oor die weg te kom in die toekoms, sou jou dalk hunker om na afgeleë plekke toe te gaan.

Alles in een, die opsie wat alle moontlikhede insluit

  1. ‘n 2de Batterystelsel vir 12V verskaffing en ‘n sonpaneel wat help om 12V te laai.
  2. ‘n “Inverter” wat die 12V verander na 220V sodat jy 220V items kan gebruik. Doen egter jou navorsing oor “Inverters” jy sal waarskynlik ‘n “Pure Sine Wave Inverter” wil hê, nie ‘n “Modified Sine Wave Inverter” nie.
  3. Dan, indien jy in ‘n area is wat 220V het, ‘n battery-laaier, sodat jy jou 12V stelsel kan laai terwyl jy aan 220V gekoppel is.

My persoonlike krag-opset bestaan uit ‘n solenoïde skakelaar en 2 “High Cycle” batterye in parallel gekoppel, wat  goed genoeg is vir 3 dae se stilstaan op 1 plek.  Ek ry ‘n 30m verlengingskoord saam vir die vrieskas, vir wanneer ek lank staan op ‘n plek wat wel 220V krag het.  Al my elektries/elektroniese items werk van 12V krag af (laptop en kamera battery-laaier ingesluit).

Indien ek nou van voor af my krag-opset moes doen, sou ek waarskynlik ‘n “High Cycle” battery installeer, die goedkoopste opsie (ek hoop dat ons oor 5 jaar kan kyk na Li-ion batterye as gevolg van Elon Musk, Nissan Leaf en Toyota Prius se invloed in die mark).  Dan sou ek ‘n versterker stelsel kry vir die battery en ‘n sonpaneel en ‘n verlengingskoord.  Ek sou ook fokus daarop om al my elektriese toebehore van 12V af te laat maak werk, nie 220V nie.

Artikel gestuur deur: Henk Blauuw