10 Dae toer deur die Weskus

Een aand langs die kampvuur saam met goeie geselskap het ons besluit om bietjie die land te gaan verken. Ons is maar geneig om altyd na dieselfde plekke terug te gaan, keer op keer. Dit is waar die besluit vandaan gekom het om bietjie deur die Weskus te toer vir ongeveer 10 dae.

Ons toer het op 28 Maart 2014 afgeksop.

Ons roete was: Piketberg, Redelinghuys, Eelandsbaai – Strandfontein Die grondpaaie word goed onderhou en ons het geen probleme gehad nie.

1ste Oornag plek was by Perdeskoen op Strandfontein. Daar is ‘n gemeenskaplike ablusieblok of jy kan een van die plotte neem met hul eie privaat geriewe – wat natuurlik baie gemakliker is. Die kragbokse gebruik die blou plugs en ons moes ongelukkig ten duurste by die klein kafeetjie een gaan koop So maak maar seker jy pak een in as jy weer die pad gaan vat.

Tente, gazebos was opgeslaan en die yskaste ingeprop, reg vir heerlike tydjie saam met goeie vriende.

Doornbaai is net so paar km van Strandfontein waar jy die welbekende Cabin Pub & Cocktail Bar kan besoek asook Fryers Cove vir ‘n heerlike glasie wyn of van hul eie bier. Beide van die plekke bedien heerlike kos vir die honger mae.

31 Maart 2014 was dit weer oppak tyd en regmaak vir die volgende roete – Groenrivier.

By Luderitz gestop vir die nodige kruideniersware aangesien dit die enigste plek op ons roete was om die yskaste en tenke te vul. Net na Luderitz het ons die grondpad gevat na Groenrivier. Na ongeveer 30km het ons gestop om wiele van die 4 x 4’s af te blaas en die kele nat te maak. Tracks for Africa het jy hier nodig om die mees westelike pad op die Weskus te ry – jy sal nie nog nader aan die see kan ry nie, anders het jy ‘n boot nodig. Die paaie en die ‘scenery’ was asemrowend mooi. Daar was so paar plekkies waar jy jou ry mooi moes ken, maar gelukkig het die bystanders mooi handgebare gegooi sodat die motors nie beskadig nie.

Net voor Brand se Baai het ons gestop vir ‘n roete bespreking en die kinders se honger magies te vul. Soos jy verder ry sien jy hope sand wat jou aan die woestyn laat dink, maar dit is geen woestyn nie. Dit is waar enige vrou ‘n dag sal wil wegraak, want hul se mos – “A diamond is a girl’s best friend.” Hier het ons vir ‘n vinnige 5 min seine gekry op ons fone.

Langs die kus was daar heelwat tente wat al ‘n hele paar seisoene deurgestaan het. Hierdie mense myn op hul eie vir diamante langs die kus waar daar gedroom word oor daai een grote.

Op die roete na Groenrivier is daar dele waar jy baie los sand kry en jy moet jou ry mooi ken. Die ervare 4×4’s ouens/vrouens los net die stuur – hy volg sy eie pad in die sand. Waar die pad ‘n vurk maak sal die bordjies aandui watter kant jy moet hou. Langs die sandpaaie is daar sulke klein riet bossies, pasop vir hulle, hulle kan jou wiel stukkend steek. Hou maar ver verby hulle.

Groenrivier kamp area is by die see, jou tent se voorstoep word letterlik gelek deur die branders se sproei. Halfmaan strukture wat uitgepak is met klip beskerm jou teen die wind, terwyl jy heerlik agteroor ‘n vleisie op die kole gooi.

Tot ons dames se verligting het elke area sy eie netjies ‘longdrop’ wat gebou is met klippe – als is so stylvol moontlik gedoen en nie net ‘n gat in die grond soos die mans ons dames eers meegedeel het nie. Daar is ongelukkig geen toegang tot vars water nie en dus ook geen storte nie. Ons het maar self paar liter water saamgeneem en spaarsamig gebruik tussen ons almal.

Groenrivier was die mees ontspannende kampeerplek van ons hele toer. Die stilte om jou met net die pragtige klanke van die see was wonderlik.

Vanaf Groenrivier het ons vertrek na Hondeklipbaai. Hier gaan die pad jou meer binnelands toe neem. Onthou om by Spoegrivier grotte ‘n draai te maak – dit is lettelik ‘n spoegie uit jou pad uit. Hier kan jy gerus bene rek en daai hol kol op die maag bietjie voed.

By Hondeklipbaai aangekom was die weer lieflik, maar ons is toe meegedeel dat die weer nie mooi gaan saamspeel nie. Ons moes maar gou gou ‘n dakkie oor ons kop kry, anders gaan ons met nat toerusting moet rondry.

Na bietjie rondsoek het ons by die Selfsorg Eenhede, Hondehokke uitgekom. Die eienaar het ons met ope arms ontvang en gou ingedeel in ons huisies. Daar is nie kitsbanke op die dorp nie, maar jy kan geld trek by die een kafeetjie as hul genoeg kontant het. Maak maar seker jy het als wat jy nodig het sodat jy weer jou koskaste kan volmaak op ‘n Donderdag wanneer hul aflewerings kom.

By die Hondehokke het ons almal gou uitgepak wat nodig was vir die aand en die kinders het sommer gou gou hul voete gevind by die swembad en tafeltennis.

Die oggend van …. April is die wiele weer opgeblaas en reg vir die pad na Port Nolloth. By Garies is daar ‘n kontrole punt waar elkeen se ID dokument vir sekuriteits doeleindes getoon moet word. Kleinzee was ons volgende pitstop waar die kinders aangedring het om die Museum te besoek. Dit is nou maar een tradisie wat ons nie verbreek nie.

Kleinzee lyk amper soos ‘n spookdorp. In die meeste huise bly daar niemand en die strate is leeg. ‘n Inwoner het ons meegedeel dat al die huisie weer verkoop was en dat dit hopenlik weer die dorp tot sy volle glorie sal bring.

Op Port Nolloth het die weer nog nie opgeklaar nie en ons moes maar weer soek vir ‘n bly plekkie. Die pryse vir selfsorg huise is baie billik en ons het besluit op ‘n huis groot genoeg vir ons hele groep- reg oorkant die see by McDougalsbaai – Vloedbos.

Hier het ons besluit om 1 aand te oornag.

Net die belangrikste is uitgepak en weereens is die vuurtjie sommer gou weer aangesteek vir ‘n heerlike steak braai. Die beste idees word altyd gemaak om ‘n vuur en dit is waar ons besluit het om die volgende dag deur te ry na Alexanderbaai. Daar sal nie oornag fasiliteite wees nie en ons sal dus nog ‘n ekstra aand in Vloedbos deurbring.

Vroeg die volgende oggend maak ons jaffels vir padkos en val in die pad (daar is geen kafeetjies nie). Dit is ‘n lang eentonige pad en al wat jy rondom jou sien is sand, mynhope en die lang slap teerpad wat voor jou oor die heuwels gedrapeer is.

By Alexanderbaai ry jy ‘n verlate stil dorpie binne. Dit is erger as Kleinzee. Niks en niemand wat ronddwaal nie, geen mense om jou om met ‘n glimlag te groet nie. Dit is ‘n plek waar ek nie sommer in die aand wil deurry nie. Die eerste foto is so in die ryery geneem. Nerens sien jy gras nie, net ‘n stukkie op die voortuin van die kerk.

By die grenspos aangekom het ons ons kameras uitgehaal om dit te dokumenteer maar net voor ons paparazzi kon speel word ons tegemoet geloop deur een van die polisie wagte wat ons net daar meedeel dat geen foto’s van die grenspos geneem mag word nie. Met baie mooi praat het hy ons toe deur die hekke laat gaan sodat ons net ‘n foto mag neem om te kan sê: “Ons was daar”.

Na ons “amper in Namibia” staptoggie moes ons weer die pad vat terug Vloedbos toe. Op die eentoninge pad kry een van ons die idee om bietjie verandering aan die pad aan te bring, om die roete so bietjie op te kikker. Aan die kant van die pad, regs van die aankomende verkeer was daar ‘n grondpad wat heelwat vermaak verskaf het.

Terug by Vloedbos moes ons weer die pad terug huis toe bespreek. Daar was besluit om soveel moontlik km’s af te lê en ordentlik ons toer af te sluit.

Vroeg die oggend van 3 April het ons opgepak en weer in die pad geval. Ons het die N7 gevat verby Springbok na Rondeberg Oord naby Clanwilliam. Die pad was stil en min trokke gesien. Daar was heelwat veilige aftrek punte om die bene te rek.

Naby Klawer het die padwerke begin, maar ons was baie gelukkig. Die langste wat ons moes wag was nie eens 5 min nie.

By Rondeberg Oord het die vriendelike bestuurder ons tegemoet gekom met staanplekke by ‘n ablusieblok. Vinnig het ons afgepak en opgeslaan om rustig weer voor die vuurtjie te ontspan na die lang pad.
Meeste mense ken die wind in daardie omgewing – as hy eers opgekom het maak maar alles mooi vas, dubbel as jy moet. Die volgende oggend was die weer heerlik en die wind het gaan lê. Kinders het geswem en die grootmense het net ontspan. Later die middag het die wind weer besluit om sy verskyning te maak en het regdeur gewaai tot oppak dag.

5 April was dit oppak dag. Geen lekker vooruitsig om weer terug huis toe te gaan nie.

Die padwerke strek tot by Citrusdal ongeveer. Hier was ons nie so gelukkig nie en moes ‘n paar keer ‘n hele tydjie staan. By Piketberg het ons gestop vir ontbyt en sommer daar besluit waarna ons volgende toer gaan wees.

Gaan leer die weskus ken, jy sal nie spyt wees nie. Ons gepakte Toyota Fortuner het ongeveer 8.5 km/l gekry wat redelik goed was.

Lekker kampplekke se kamplys het ons gehelp om al die toerusting te neem wat nodig is.

Baie dankie aan Karen Spence vir jou fotos en Weskus storie. Karen is een van Lekker kampplekke se eerste facebook vriende.