Vis en Vleis Resepte

Wanneer daar gebraai word.

Vleisbraai is die enigste tipe kosmaak wat ‘n ware man sal doen.

Wanneer ‘n man besluit om te braai, ontstaan die volgende ketting-reaksie.:

1)         Die vrou gaan koop die vleis en by-kossies.
2)         Die vrou maak die slaai, pap en sous.
3)         Die vrou gooi speserye op die vleis, sit dit in ‘n bak saam met die nodige braai-gereedskap en souse en vat dit na die man wat langs die braaier met ‘n dop in sy hand staan.
4)         Belangrik: DIE MAN PLAAS DIE VLEIS OP DIE ROOSTER
5)         Die vrou gaan na binne om die borde en eetgerei reg te kry.
6)      Die vrou kom uit om die man te vertel dat die vleis besig is om te verbrand. Hy bedank haar en vra of sy nog ‘n dop sal gooi terwyl hy die situasie onder beheer bring.
7)         Weer belangrik: DIE MAN VERWYDER DIE VLEIS VAN DIE ROOSTER EN GEE DIT VIR DIE VROU AAN.
8)         Die vrou sit al die kos gereed op die tafel.
9)         Na ete dek die vrou die tafel af en was al die skottelgoed.
10)       Almal bedank die MAN vir die heerlike braai-poging.

Later vra die man of sy vrou darem haar “aandjie af” geniet het. Wanneer hy die reaksie op haar gesig sien, besluit hy daar is ook niks wat sommige vrouens tevrede sal stel nie!

BRAAI WENKE

BRAAIVLEIS:

Kos wat in die buitelug gaargemaak word, hou ‘n wonderlike bekoring in, en die tergende geur van vleis wat op die kole sis maak ‘n mens rasend honger. Dit is seker een van Suid-Afrikaanse se nasionale tydverdryfte. Dit is wonderlik hoe dikwels mense met bitter min ervaring aan kookkuns dit regkry om die heerlikste kos oor die kole gaar te maak. Daar is geen formaliteite by ‘n braaivleisvuur nie. ‘n Braai is wat jy self daarvan maak. Braaivleis bly ewe lekker, of dit nou by ‘n swierige braaiplek, jou eie lapa, in die tuin of op ‘n eenvoudige braaitoestelletjie berei word. Wat is nou geselliger as die sorgelose saamkuier om ‘n braaivleisvuur? Niks klop immers daardie besonderse rooksmakie van kos wat oor die kole gaargemaak is nie.

BRAAI WENKE
So maak mens jou braai beter as die buurman s’n:

BEESHAAS (STEAK)
Moet nie gevriesde steak ontdooi nie. Plaas dit net so op die vlamme en sout eers wanneer dit amper klaar is.

BOEREWORS
Ryg boerewors deur ‘n sosatiestok met uie tussen in. Braai die wors oor die koeler deel van jou vuur / kole. So laat jy dit stadiger kook. Moet nie die vel prik dat die vet uitkook nie. Die wors moet juis gaar kook in die vet om sodoende die smaak te behou.

Draai die wors om sodra jy kan sien die vet kook aan die binnekant. Moet nooit meer as tien minute aan ‘n kant braai nie. Doop wors in water voor jy dit braai. Dit verhoed dat die wors maklik oopbraai terwyl dit gebraai word.

FILET
Laat ‘n filet vir ‘n paar uur in Cola Cola marineer voor jy dit braai. Braai dit oor vlamme en sorg net dat die kante seël.

GROENTE
Maak ‘n sousie met gelyke hoeveelhede van balsemasyn, suiker en olyfolie en verf dit gereeld oor jou groente terwyl dit braai.

HOENDER
Kook hoender in Coke voor jy dit braai of 20 minute in water. Dit maak dit sag en smaakvol.

KRUIE
Gooi jou gunsteling kruie op die vuur vir ‘n aangename reuk.

KRUISSTUK (RUMP)
Marineer jou kruisstuk (Rump) oornag in sonneblomolie en worcestersous voor jy dit vinnig weerskante seël en dan verder braai soos jy dit verkies.

LAM
Vir ekstra geur gooi jy klam takkies roosmaryn of lourierblare in jou halfuitgebrande vuur waarop jy gaan lam braai.

MIELIES
Maak ‘n pasta van gemmer, rissie, olyfolie, heuning en sesamesaad en smeer oor mielies.

PIESANG
Braai piesang in die skil. Haal af sodra die skil begin swart word en sit voor met room.

PIESANGBLARE
Was ‘n piesangblaar en vou ‘n vis toe daarin. Stoom gaar op die braai, ± 45 minute. Probeer ‘n pasta van gemmer, suurlemoensap en olyfolie op die vis.

ROOSTER
Indien jou vleis vassit op jou rooster, maak dit skoon met jou draadborsel terwyl dit nog warm is en smeer ui daaroor.

SUURLEMOENSAP
Druk vars suurlemoensap oor hoender, groente, vis of lam net voor dit van die kole afkom vir ‘n pikante smaak.

TJOPS
Sprinkel suurlemoensap oor jou tjops voor jy dit braai. Dit maak dit sag. Laat jou tjops oornag in Coke lê. Die vleis is dan sag en smaakvol wanneer jy dit braai. Moet nie tjops sout voor jy dit braai nie. Dit maak dit taai.

KLAAR GEBRAAIDE VLEIS
Plaas die vleis wat reeds gebraai is op ‘n bed gebraaide uie. Dit verhoed dat die vleis uitdroog en dit gee die vleis ekstra geur.

VLAMME
Sit ys op die vleis indien die vlamme te hoog brand. Plaas ‘n koeldrankblikkie of bierblikkie ¾ gevul met water in die middel van jou kole. Dit verhoed dat vlamme, veroorsaak deur druppende vet, buite beheer raak.

VUURAANSTEKERS
‘n Alternatief tot vuuraanstekers is ‘n die onderste helfte van ‘n eierdoos gevul met ou kookolie. Plaas dit plat neer en bou jou vuur daarop.