TRAILER CUFF

TRAILER CUFF

TRAILER CUFF OORSIG

Toe Rikus van Lekker Kamplekke my gekontak het om te vra of ek ‘n oorsig op die Trailer Cuff sal doen, het ek nie regtig geweet wat dit is en hoe dit werk nie. Ian, wat die Trailer Cuff ontwerp het, het dit by my kom aflaai net voor ek die naweek na ‘n kampterrein gesleep het. Ian het my so vining touwys gemaak hoe die toestel werk en hoe mens dit gebruik. Alles pas in ‘n klein sterk sakkie wat kompak genoeg is om in jou voertuig te bêre. Deur:Derick Koekemoer
Ek moet erken dat ek my trots in my sak moes steek. Toe ek die Trailer Cuff sien, toe onthou ek dat ek dit van ‘n ent af iewers op ‘n sleepwa by die onlangse Getaway Skou in die Kaap gesien het. Ek moet verder erken ek was ook een van daardie manne wat gedink het dat jy die ketting baie maklik kan afknip! Dit was asof Ian my gedagtes gelees het, want hy was voorbereid en het hy gewapen met ‘n Bolt Cutter in die hand by my opgedaag. Die uitdaging was natuurlik om die ketting te probeer afsny. Wel, jy kan nie, nie met gewone gereedskap nie. Ek reken dat geen kragapie dit sommer maklik met ‘n Bolt Cutter sal regkry nie! Ian het my verseker dat hy omtrent 20 verskillende kettings getoets het, en selfs twee van oorsee af ingevoer het, voordat hy op hierdie een besluit het.
Trailer Cuff

Vir my bied die Trailer Cuff drie basiese voordele:

1. Dit bied sekuriteit dat jou Karavaan of Sleepwa nie maklik gesteel word waar dit gestoor word nie. Die Trailer Cuff kom uit met ‘n los alluminiumbal, soos jou sleepvoertuig se sleepbal vir hierdie doel.
2. Dit bied ekstra sekuriteit dat jou Karavaan of Sleepwa nie maklik van jou voertuig af gesteel word as jy iewers in die openbaar parkeer nie.
3. Dit gee jou ekstra gemoedsrus in veiligheid dat die sleepwa se koppelstuk aan die hak sal bly terwyl jy sleep.
Veiligheid en sekuriteit is eenvoudig ‘n moet as jy die langpad aandurf… Jy kan deesdae in Afrika nie genoeg sekuriteit hê nie. Ek het al baie gehoor en in verskillende media gelees hoe mense se sleepwaens in ‘n oogwink op ‘n parkeerterrein buite ‘n winkelsentrum gesteel was, en ook hoe karavane en sleepwaens in die ry afhak terwyl mense sleep. Min mense weet dat die koppelstukke slyt, of dat koppelstukke gereeld nagegaan moet word om te verhoed dat dit nie afhak nie. Trailer Cuff bied die oplossing hiervoor en is enig in sy soort van wat ek al in die Kampeerwêreld teë gekom het.
Die Trailer Cuff is 2 vlekvryestaalplate wat gevorm is om aan die onderkant van die Sleepvoertuig se sleephak te pas. Dit werk amper soos ‘n skêr met ‘n skanier aan die een kant waaraan die ketting vas is, en twee gate vir ‘n hangslot aan die anderkant. Die bout en moer wat deur die skanierkant vasgebout is, is vasgesweis en dus sal dit nie met gewone gereedskap losgedraai kan word nie.

In die sakkie kry jy die volgende:

1. Die Trailer Cuff meganisme met die ketting 2. Alluminiumbal 3. Karabyn/Snaphook 4. Master hangslot 5. 3 Spaarsleutels 6. Gebruiksaanwysingsboekie 7. ‘n Lappie om nodige vuilgoed mee af te vee 8. 2 x Trailer Cuff plakkers
Trailer Cuff sakkie
Die vindingryke toestel is regtig maklik om te gebruik. Jy skuif eenvoudig die 2 metaal plate onder die sleepbal of alluminiumbal in, bring die twee gate na mekaar toe, plaas die ketting bo-oor die Sleepwa koppelstuk en sluit dit toe met die hangslot.
Die Trailer Cuff pas op enige karavaan of sleepwa se koppelstuk, van die toehand gietyster tipe tot die moderne oophand koppelstukke. In die sakkie is daar ook ‘n Karabyn/Snaphook wat jy kan gebruik om ‘n lus in die ketting te maak sodat dit oor die modern oophand koppelstukke pas. Alles word in die aanwysingsboekie verduidelik. Ek was regtig beindruk met hierdie patent en natuurlik meer beindruk oor die gemoedsrus wat dit my gegee het terwyl ek gekamp het, en terwyl ek gesleep het. Dit het my laat besluit om defnitief een vir my aan te skaf want ons besoek redelik baie afgeleë plekke waar ons gaan kamp.
Die Trialer Cuff het ‘n toekening ontvang by die onlangse Getaway Skou in die Kaap, as Best Overland Gear & Accessory 2016.