Beste wenke tot ‘n beter kampervaring

Beste wenke tot ’n beter kampervaring

Soos julle weet, kan kamp – soos met die meeste dinge in die lewe – ‘n lekker ervaring wees vir die hele gesin, maar dit kan ook dalk jou grootste nagmerrie word.  Die geheim van ‘n lekker en suksesvolle kampervaring is navorsing…en beplanning!

Dit is belangrik om meer uit te vind oor die area waar jy beplan om te gaan kamp.  As jy weet wat die omstandighede behels waar jy beplan om te gaan kamp, hoe meer ingerig kan jy wees vir enige voorval  wat jy dalk moontlik kan ondervind.  As jy naby die see gaan kamp, moet jy in gedagte hou dat die grondoppervlakte meer sanderig gaan wees.  Jy sal dus geskikte sandpenne moet saamneem wat meer geskik is vir sanderige grond.  As jy egter die naweek gaan kamp opslaan in die bos, sal die grond dalk hard wees en benodig jy egter weer korter en sterker grondpenne.

Neem ook die weersomstandighede in gedagte by die omgewing waar jy gaan kamp.  Jy sal ondervind dat die kampplekke langs die kus meer winderig is as die kampplekke wat meer na die binneland geleë is.  As jy dus langs die kus kamp moet jy ekstra toue, grondpenne, windbrekers en stormnette (net ingeval) benodig.  Lees op oor wat die gemiddelde temperatuur in die nag is wanneer en waar  jy beplan om te gaan kamp, want dit sal dan bepaal watter tipe slaapsak jy moet inpak.  Dit is nie ‘n grap om te gaan kamp en die temperatuur daal tot -2 grade en jy het ‘n slaapsak ingepak wat jou nie warm genoeg deur die nag gaan hou nie.

Nadat jy jou navorsing gedoen het, kan jy met jou beplanning begin.  Daarvolgens kan jy beplan watter toerusting jy benodig om jou kamp ‘n heerlike en onvergeetlike ervaring te maak.  ‘n VOLLEDIGE KAMPPAKLYS is ‘n MOET vir enige kamper.  Begin vroegtydig vanaf jou paklys af werk om onnodige rondslomp die dag voor jy wil vertrek te verseker.  Jy wil nie die dag voor jy gaan kamp agterkom dat jou gasstofie nie meer werk nie en dat jou tentpenne by die vorige kamp agterweë gebly het nie!

So wat moet alles nagegaan word?

Haal jou tent uit en gaan die algehele toestand van die tent na.  Kyk dat die ritssluiters ens in ‘n werkende toestand is.  Kyk dat die pale vir die raamwerk van die tent alles daar is.  Tel en kyk dat die geskikte grondpenne daar is saam met die al die tent se toue.  Toets dat  jou gaslampe en gasstofies werk en dat jou gasbottels vol genoeg is.

Kyk dat jou matrasse nie enige gaatjies in het nie (pomp die matras vooraf op om te verseker jy slaap nie op die harde grond nie).  Kyk dat jou kampbed nog reg is.

Kyk dat jou kampyskas en enige ander kamptoerusting in ‘n goeie werkende toestand is.

Opslaan van jou tent:

Maak seker dat die oppervlakte waar jy jou tent gaan opslaan nie skerp voorwerpe het wat die grondseil van jou tent kan beskadig nie.

Kyk dat daar geen mierneste is waar jy gaan tent opslaan nie.

Kyk dat daar geen takke is wat oorhang en dalk jou tent kan beskadig as die wind begin waai nie.  Doringbome kan groot skade aanrig.

Kyk dat jy nie jou tent oprig in ‘n waterloop nie, nie noodwendig ‘n rivierwal nie, maar enige plek waar water na jou kampplek kan stroom as dit sou reën.

Rig altyd jou tent met sy rugkant op na waar die wind moontlik vanaf kan waai/reënkant.

Gebruik die geskikte tentpenne vir die grond waarop jy kamp opslaan.

Slaan al jou tent se toue vas sowel as die grondpenne.  Die weer mag dalk rustig lyk terwyl jy opslaan, maar die wind kan gou opsteek en dan moet jy spartel om alles vasgeslaan te kry.

As jy in die winter gaan kamp en jy is bang dit reën en die water loop in jou tent in (dalk staan jy op ‘n effense afdraende), is dit ‘n goeie idee om slote langs jou tent te grawe sodat die water wegloop (NET as die grondoppervlakte dit toelaat!  Moet asb nie die kamp se mooi gras oopgrawe nie.)

Tyd vir afslaan:

Indien moontlik, wag totdat jou tent heeltemal droog is voordat jy dit opslaan.  Andersens sal jy weer die tent moet opslaan as jy by die huis kom – ‘n nat tent lei tot mos op die tent wat weer daartoe lei dat jy jou tent baie vinniger sal moet vervang.

Kyk dat al die tentpenne en pale droog is voordat jy dit inpak, sodat dit nie roes nie.

Kyk dat jou kampplek mooi skoon is en dat jy alles inpak.