8 Beste langpad speletjies vir die hele gesin

8 Beste langpad speletjies vir die hele gesin

Die karavaan is gepak en die kinders langs mekaar ingeryg op die agterste sitplek van die motor.  Die eerste 50km gaan dit goed, totdat die kinders saam in ‘n koor begin sing…wanneer is ons daar?

Hier is ‘n paar speletjies wat julle in die kar met die kinders kan speel:

KARKRIEKET:
Elkeen in die kar kry ’n kans om te kolf. Om punte aan te teken, tel jy die waardes bymekaar van die voertuie waarby julle verbyry.

Die puntetelling werk so:

Motor = 1 lopie

Motor met ’n sleepwaentjie = 2 lopies

Bus of vragmotor = 4 lopies

Karavaan = 6 lopies

Die kolwer hou aan kolf totdat ’n rooi motor verbykom.  Hy is dan uit en kry die volgende kolwer ’n beurt om te kolf. Sodra iemand 100 lopies het, is die speletjie verby.

WINDPOMP AVONTUUR:
Die kinders moet kyk hoeveel windpompe hulle langs die pad raaksien. Die wenner is die speler wat die meeste windpompe raaksien teen die tyd dat julle by die kampplek aankom.

TONNEL-ASEM:
Die kinders moet  hul asem ophou wanneer julle by ‘n tonnel ingaan.  Die wenner is die kind wat die langste sy asem kan ophou.

SPEURDER:
Een van die kinders in die kar moet aan ‘n seker voorwerp dink.  Die ander passasiers moet dan prober raai wat die voorwerp is mag dan net 20 vrae vra .  Die antwoorde mag net ‘n “JA” of “NEE” wees.  As die “speurders” nie binne 20 vrae kan raai wat die voorwerp is nie, verloor hulle.  Iemand anders kry dan weer die geleentheid om aan ‘n voorwerp te dink.

MAAK ‘N LAS:
Die speletjie begin met ‘n passasier wat  een volsin uitdink. Die volgende persoon moet dan nog ‘n sin bylas.  Almal in die kar kry ‘n beurt om ;n sin by te voeg totdat ‘n hele storie ontstaan.

ALFABET TREIN:
Die speletjie begin met ‘n passasier wat bv die volgende stelling maak: “Ek gaan kamp met ons karavaan en ek vat…saam.  Hierdie passasier voltooi dan die sin met ‘n woord wat met ‘n “A” begin – soos “appel”.

Die tweede speler herhaal dan dié sin en voeg dan ’n tweede woord by wat met ’n ‘b’ begin, soos ‘boontjie’. Byvoorbeeld “Ek gaan kamp met ons karavaan  en ek vat ’n appel en ’n boontjie…” Indien ’n speler ’n woord vergeet  is hy uit die spel uit. Die laaste speler wat al die woorde tot en met ‘y’ kan opsê, is die wenner!

MIK EN DRUK:
As jou kinders oud genoeg is, laat hulle toe om beurtelings foto’s te neem met ‘n digitale kamera of met jou slimfoon.  Dit is groot pret om by jou bestemming deur al die foto’s te gaan en om die wêreld deur die oë van jou kind te sien.

TALENT PARADE:
Laat jou kinders grappies vertel en liedjies sing in die kar.  Wees jy die seremoniemeester en kondig elke kind met entoesiasme aan.

Ten slotte…Onthou, die belangrikste is om die rit as gesin saam te geniet en om kalm te bly in die voertuig.  Haal diep asem en geniet die tydjie saam met jou liefmense terwyl julle oppad is na jul gunsteling kampplek.  Onthou julle is besig om saam kosbare herrineringe as ‘n gesin te bou.

Deur: Loret Truter